Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS - SONDAG 5 SEPTEMBER 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

NUWE LISENSIEFOOIE IN STAATSKOERANT

SARLNUUS HET VAKATURES

SARL-LIDMAATSKAP BY 1 200-KERF

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

NUWE LISENSIEFOOIE IN STAATSKOERANT

Op Vrydag 27 Augustus het OKOSA die nuwe lisensiefooistruktuur in die Staatskoerant gepubliseer. Die minimum fooi vir enige radiolisensie is R120. Die nuwe fooie tree op 1 April 2011, dit is die begin van OKOSA se finansiële jaar, in werking. Alle lisensies in die amateurdiens sal vanaf daardie dag R120 per jaar kos.

Op 29 April 2009 het die SARL ʼn memorandum aan OKOSA voorgelę waarin beswaar aangeteken is oor die voorgestelde verhogings en beweer dat dit nie in belang van afgetrede persone of die jeug sou wees nie. OKOSA het die SARL se voorstelle vir laer fooie verwerp. Indien die nuwe fooie in perspektief geplaas word, is dit binne die gemiddelde inflasiekoers oor die afgelope 25 jaar, synde minder as 8% per jaar.

Vanaf 1 April 2011 verhoog die volgende lisensiegelde na R120 per jaar:
ZU-, ZR- en ZS-lisensies
Bakenlisensies
Versoek om roepsein te verander
Spesiale geleentheid lisensie
Luisteraarslisensie
Herhalerstasie insluitend radiokoppeling
Digiherhaler/bulletinbord
Eksperimentele stasie vir weersatellietontvangs en -heruitsending

Lede wat vooruit betaal, word met afslag beloon: Indien ʼn lisensie 2 jaar vooruit betaal word, kos dit R240; 3 jaar R329; 4 jaar R419 en 5 jaar R500.

SARLNUUS HET VAKATURES

SARLnuus het vakatures vir bulletinsamestellers, redakteurs en vertalers. Die suksesvolle kandidate moet ʼn entoesiasme en taalvaardigheid in Afrikaans of Engels of albei hę. Die beloning lę in die bevrediging om te sien dat die bulletin in druk verskyn en oor die lug gelees word. SARLnuus word saamgestel deur spanne wat saam met George Honiball werk. Tans werk elke span elke tweede maand. Nuus word saamgevoeg op Vrydagnamiddag en Saterdagoggend, dan geredigeer en vertaal en uiteindelik deur George nagegaan voordat dit Saterdagaand versprei word op die internet. Indien jy ondervinding in redigering wil opdoen, skakel gerus vir George by 012 664 4155. Enige hulp sal hoog op prys gestel word.

SARL-LIDMAATSKAP RAAK AAN 1 200-KERF

31 Augustus was die afsnydatum vir die betaling van die 2010/2011-lidmaatskapgelde. Die getal opbetaalde lede was toe reeds by die 1 200-kerf en dit is waarskynlik nou meer. Indien jy nog nie jou SARL-lidgeld betaal het nie, het jy nog 7 dae grasie voordat jy alle voordele verbeur.

Moet asseblief nie dat dit gebeur nie en betaal daardie paar rand binne die volgende paar dae. Indien jy jou rekening of die herinnering wat ʼn paar dae gelede gestuur is, verloor het, skakel vir Mariska Maandagoggend op 011 765 2393.

RTA WORD GEOPEN DEUR NRF SE UITVOERENDE DIREKTEUR

Dr Robin Drennan, uitvoerende direkteur van die Nasionale Navorsingstigting, lewer die openingsrede by die SARL se Radiotegnologie in Aksie 2010 wat op Saterdag 18 September by die Nasionale Amateurradiosentrum gehou word. Hy sal ook die intydse ruimteweeruitstalling open wat in samewerking met die Hermanus Magnetiese Observatorium gebou is. Die hardeware is deur Acer Suid-Afrika geskenk.

Die volle program kan afgelaai word vanaf www.sarl.org.za, klik op RTA en volg die skakels. Indien jy ʼn kopie in jou posbus wil kry, stuur ʼn e-pos aan rta@sarl.org.za met RTA in die onderwerplyn.

VK2DGR STEL TANTIEME VRYE DIGITALE STEMKODEK VRY

Digitale oudio vir amateurradio het pas ’n reuse tree vorentoe geneem. David Rowe, VK5DGR, het aangekondig dat Weergawe 0.1 alfa van Codec2 nou beskikbaar is, met ʼn volfunksiekodek van 2 550 grepe per sekonde digitale stem-amateurradio.

Codec2 is ʼn oopbron- laegreepspoed-spraakkodek wat onder GNU-lisensie vir kommunikasiegehalte spraak ontwerp is. Dit word gebruik vir HF- en BHF- digitale radio op smal bandwydtes. Codec2 se ondersteuners reken dit vul ’n leemte in die reeks oopbron-vryespraakstemkodeks wat teen minder as 5 000 grepe per sekonde werk. As jy na die toetsuitsending met ’n manstem en ’n vrouestem luister, sal jy glo dat Rowe geslaag het. Jy kan later vanoggend op Amateur Radio Mirror International daarna luister.

Diegene wat Codec2 ondersteun, glo dat die tekort aan ʼn kopieregvrye kodek die ontwikkeling van digitale stemkommunikasie in amateurradio vertraag het op die HF- en BHF-bande. Hulle hoop dat Codec2 uiteindelik ingesluit sal word in die DV-sagteware soos WinDRM en FDMDV wat totnogtoe staatgemaak het op nie-oopbronkodek.

HET JY DIE ISAT-VOORDRAG MISGELOOP?

Indien jy die ISAT-voordrag misgeloop het wat deur John Williscroft, ZS6EF, gelewer is, kan jy nou daarna luister op www.amsatsa.org.za. Die voordrag beskryf ʼn denkbeeldige CubeSat en is deur John ontwikkel om bespreking aan te moedig soos op verlede Sondag se SAT-netwerk. Jy kan nog jou idees instuur vir wat oorweeg behoort te word vir insluiting in die loonvrag van die voorgestelde satelliet. Stuur kommentaar aan saamsat@intekom.co.za.

RADIO ZS IS IN DIE POS

Soos met elke uitgawe, is die jongste Radio ZS propvol lekker leesgoed, soos ’n artikel oor die toevoeging van AM aan die FT-102 deur André Botes, ZS2ACP, en hoe om ’n voetskakelaar vir kompetisies te nou, deur Kevin McDonald, ZS6KMD. Indien jy tydens die Węreldbeker ʼn vlag op jou motor gehad het, sal jy belangstel in ’n interessante herwinningsprojek getitel “Recycling the World Cup” deur John Williscroft, ZS6EF. Reis saam met Dennis Green na Friedrichshafen, lees oor amateurradio en die Węreldbeker, oor satelliete, en of QSL nou nodig is of nie. Die Julie/Augustus-uitgawe is nog een wat nie misgeloop moet word nie. Indien jy nie ʼn lid is nie en graag wil sien wat jy misloop, stuur gerus ʼn e-pos aan armi@sarl.org.za met RadioZS in die onderwerplyn en ons sal ʼn komplimentęre kopie aan jou stuur. Lede wat teen 10 September nog nie hul lidmaatskap hernu het nie, moet onthou hulle gaan toegang tot die ledeblaaie asook die aanlynuitgawe van RadioZS verloor.

UITNODIGING OM HABEX 2010 SE TWEEDE TOETSLANSERING BY TE WOON

Op 24 Julie 2010 het Sci Bono in samewerking met radioamateurs probeer om HABEX, die eksperimentele hoogballon-loonvrag, te loods. Die loonvrag het verlore gegaan as gevolg van elektroniese probleme en die span moes weer terug tekentafel toe om die kinkels te probeer uitstryk.

Radioamateurklubs en individue word genooi om die tweede loodspoging saam met die hoopvolle span by te woon.

Besonderhede is as volg:

Plek: Klerksdorp-lughawe FAKD
Tyd: 07:00–13:00 SAT
Datum: 25 September 2010

Besonderhede van die loonvrag sal op die SARL-forum geplaas word en u word uitgenooi om te kom deel in die plesier.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, laat weet dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. 'n Handvol klein sonvlekkies het hulle verskyning gemaak. Ongelukkig wil dit voorkom of hulle maar redelik onaktief is. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 10 wees.

20 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 40 m. Met die seisoen wat begin draai, begin 15 m ook bietjie sy vere regskud. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Teen sonsondergang gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië en Nieu-Seeland is met sonsopkoms op 20 m moontlik en ook op 40 m nadat die son gesak het. Kontakte met die VSA gaan uitdagend wees. Swak 15 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik.

30 m kan vir die digitale en gelykgolf-entoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die węreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

10 September – Laaste dag vir betaling van 2010-ledegeld.
18 September - RTA-simposium in Gauteng.
25 September – Lansering van HABEX te Klerksdorp.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel en deur Hester van der Walt nagesien is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003